Liza se verhaal word afgewissel met uitreksels uit die oorspronklike verslag wat sy aan die WVK oorhandig het. Maar hierdie is baie meer as et ‘n verkenning van die ongure onderwereld van die destydse Suid-Afrika – vol korrupte politici, taakmagte en internasionale intriges. Dis ook die storie van ‘n lewe wat afspeel teen hierdie agtergrond, en hoe een indrukwekkende vrou haarself uit haar persoonlike hel red.
In 2018, kort op die hakke van sy topverkoper-memories oor die Spaanse Camino, Elders, en ‘n die kykNET-reeks Elders: Die Camino, skiet Erns Grundling en /n klein TV-span ‘n nuwe reeks – die keer in Japan, die land waar Rugbywereldbeker in 2019 en die Olimpiese Spele in 2020 plaasvind.
Die splinternuwe woordeboek (die eerste nuwe Afrikaanse blokraaiselwoordeboek sedert 2000) bevat al die woorde van die gesaghebbende verklarende handwoordeboek van die Afrikaanse taal – op verskillende maniere gesorteer om gebruikers vinnig en maklik oplossings te help vind vir al die baie leidrade waarmee blokraaiopstellers hulle daagliks probeer vasvra. In die eerste deel van die titel is die woorde alfabeties volgens hul getal letters, van 2 tot 29 letters, gerangskik. In die tweede deel van die titel is die woorde – van 2 tot 14 letters – volgens hul eindletters georden. Deur die agterstevoor (retrograde) sortering kan die tweede deel van die titel ook as rymwoordeboek gebruik word.
In hierdie roman oor plaasvroue, aangewese op mekaar in nood en behoefte, gee die skrywer ‘n ontstemmende blik op ‘n halfeeu se Afrikaanse landskap, soos gekenmerk deur ontwrigte, verminkte menslikheid maar ook deur nooitaflatende hoop. Haar evokatiewe beelding van die lotgevalle op die plaas Grootmoedersdrift, ondersoek – op ‘n uitdagende wyse – nie net die mens se ekologiese verwantskap met die grond nie, maar ook sy etiese verantwoordelikheid. Die uiterste grensgebiede van intimiteit word verken. Hoe word daar afskeid geneem en gesterwe? Deur watter soort genade? Wat is die ware aard van wat mens so maklik “liefde” en “sorg” noem?
In 1904 het ‘n groep veterane van die Anglo-Boereoorlog – onder andere generaals Piet Cronje en Ben Viljoen – onder die vaandel van de sirkusbaas Frank Fillis en sy sogenaamde “Transvaalse Militaire Spektakelsindikaat” na Amerika gereis om daar krygsvoorstellings van veldslae uit die oorlog te gaan opvoer. Dit was die begin van ‘n bisarre en soms skreiende avontuur.